Deur Suzaan Potgieter, Die Burger Versnit

Drinkers van sauvignon blanc kan solank hul lysie van gunstelinge vir die warmer dae opstel, met die wenners van 2020 se Sauvignon Blanc Suid-Afrika Top-10 boaan hul lys. Vanjaar se tien wenners is verlede Woensdag aangekondig op ’n aanlyn spoggeleentheid met glanssjef Zola Nene as seremoniemeester en Nataniël as vermaakkunstenaar. Anders as in die verlede waar wenners op die aand hul trofee ontvang het, is die trofeë na die wenners se kelders geneem. ’n Kort video van elk van die kelders is op die geleentheid gespeel.