Deur Emile Joubert, Tjorts, Die Burger Landbou 

SLUIT AAN BY DIE SAUVIGNON-FEES 

Enigiemand met selfs ’n verbygaande belangstelling in wyn is verlede week meegesleur deur die energieke nuusberiggewing en inklusiewe aktiwiteite rakende die Internasionale Sauvignon Blanc-dag. Dit is verlede Vrydag gevier.
Sulke “internasionale dae” kom en gaan: Wêreld-haardroërdag, Internasionale Vetvrye-melk-skommel-dag, Braaidag . . . noem maar op, die afgelope tien of wat jaar is sulke daglange vierings ’n daaglikse okkasie – met die idee om die onderwerp gekoppel aan daardie dag te vier en bewustheid daarvan te skep.

Op eie bodem 
Dus, verlede Vrydag het wynprodusente oor die wêreld heen saamgestaan om die kollig te plaas op sauvignon blanc, ’n doelwit wat ondersteun word deurdat hierdie fris, toeganklike en bevredigende witwyn miljoene der miljoene aanhangers onder die planeet se wyndrinkende publiek het.
Suid-Afrika was hier heel voor in die koor met die viering van en erkenning aan sauvignon blanc, grootliks danksy die raakvat-bemarking van Sauvignon Blanc Suid-Afrika, die liggaam wat die deugde van hierdie druifsoort en sy wyn promoveer.
Hierdie aksies – wat die verskeidenheid, gehalte en uniekheid van Suid-Afrika se sauvignon blanc-aanbiedings promoveer – is oor die hele wynwêreld raakgesien, te oordeel aan die reaksie op sosiale media.
En die stempel wat sauvignon blanc met hierdie geleentheid afgedruk het, was ’n gepaste herinnering aan die belang wat hierdie druifsoort vir die ekonomiese stabiliteit vir die plaaslike bedryf inhou. In ’n tyd wanneer, wel, stabiliteit nodiger is as ooit.